Klein reaktors ’n langtermynoplossing DEUR ANTOINETTE SLABBERT

Nov 20, 2022

Source Article: Netwerk24.com

Soos rekenaars die afgelope vyf dekades, gaan kernkragstasies ál kleiner en bekostigbaarder word, totdat ’n myn byvoorbeeld sy eie krag sal kan opwek met ’n reaktor wat op ’n vragmotor kan pas.

Só sê die waagkapitalis André Pienaar, ’n aandeelhouer in X-Energy, wat reeds besig is om so ’n reaktor vir Washington-staat in die VSA te bou.

Pienaar, die stigter van die waagkapitaalfirma C5, is ook die leier van ’n groep sakelui wat die Vrye Weekblad van ondergang gered het.

Hy het die afgelope week by die Energie-indaba in Kaapstad gepraat oor die potensiaal van dié nuwe geslag reaktors vir Suid-Afrika en die res van die vasteland. In die toekoms kan gemeenskappe, munisipaliteite en private maatskappye dalk hul eie klein, modulêre reaktors aanskaf, sê hy.

Die hoofwetenskaplike van X-Energy is dr. Eben Mulder, wat voorheen ’n soortgelyke pos beklee het by die Suid-Afrikaanse korrelbed-kernreaktor (PBMR). Dr. Martin van Staden, ook voorheen verbonde aan die korrel­bed­­kernreaktor, is X-Energy se hoof van reaktor-ontwikkeling.

Die Suid-Afrikaanse regering het in 2010 die korrelbed­kernreaktor-program gestaak ten spyte daarvan dat miljarde rande se belastinggeld reeds daarin belê is.

Volgens Pienaar het Mulder en Van Staden met die hulp van nog ’n tiental of wat voormalige PBMR-kollegas gebou op hul “kopkennis” van die korrelbed­reaktor in die ontwerp van X-Energy se klein reaktor.

Dít het die firma saam met Bill Gates se TerraPower die leier op dié gebied gemaak en hulle het in 2019 ’n kontrak van $1,9 miljard verkry om die eerste klein kernreaktor vir Washington-staat te bou. Dit sal na verwagting in 2027 begin krag opwek.

“Dit is een van die projekte waarmee ons besig is. Daar is ander vir Kanada, die firma DowChemicals en vir Nasa,” sê Pienaar. “Washington se wetgewing wat skoon energie vereis, het die deur oopgemaak vir die klein kernkragreaktor.”

Klein reaktors se opwekkingsvermoë is per definisie minder as 400 MW, maar dit kan so klein wees as ’n 8 MW-mikroreaktor wat op ’n vragmotor of in ’n vliegtuig kan pas.

Dis nie ’n vinnige, maklike oplossing vir kragtekorte nie, maar eerder ’n langtermynoplossing wat ’n waardevolle rol kan speel in kragvoorsiening, sê hy.

Pienaar sê die sakemodel vir kernkrag behels ’n groot kapitaaluitleg aan die begin, maar dit is baie ekonomies oor die leeftyd van die reaktor. Dit word gebou vir 40 jaar, waarna dit met nog 40 jaar verleng kan word.

Die klein kernkragreaktor kos sowat 1-2% van sy tradisionele logge ouboet se prys.

Rusland en China gebruik reeds geruime tyd klein, modulêre reaktors, maar weens streng regulering wat ontwerp is vir die tradisionele groot reaktors, is die ontwikkeling in die Weste stadiger, sê Pienaar. Daar is nog nie een in die Weste in kommersiële gebruik nie.

Daar is wel tans meer as 20 maatskappye in die VSA wat aan klein reaktors werk en tussen 50 en 60 in die Weste, sê Pienaar. Dit sluit in ’n demonstrasiemodel by Oarai in Japan. Hy is daarvan oortuig dat die klein, modulêre reaktor ideaal is vir Suid-Afrika en die res van die vasteland. “Die PBMR was al so ver gevorder dat daar reeds drie persele in Suid-Afrika geïdentifiseer en voorberei is. Dit is by Koeberg, Pelindaba en Necsa en gee vir Suid-Afrika ’n voorsprong bo die res van die wêreld,” sê Pienaar.

Die reaktors hoef nie soos die tradisionele kernkragreaktor by ’n watermassa te wees vir verkoeling nie. Hy voorsien byvoorbeeld dat ’n mynmaatskappy met so ’n reaktor krag kan opwek vir sy bedrywighede en vir gebruik deur die gemeenskap rondom die myn, wat dan losgemaak word van Eskom se netwerk en die skaars Eskom-krag sodoende beskikbaar stel vir ander gebruikers. Dit is ook geskik vir munisipaliteite wat hul afhanklikheid van Eskom wil beperk.

“Ek sien ’n klein kernkrag­reaktor in Kaapstad se toekoms,” het hy bygevoeg. “Daar is reeds 30 Afrika-lande met kernkrag­programme en Suid-Afrika se energiebehoeftes sal na verwagting teen 2050 verdubbel. Daar is ’n geleentheid vir Suid-Afrika om die behoefte in Afrika te help vervul deur die bestaande kennis in die land oor kernkrag aan te wend,” sê Pienaar.