Source Article: Netwerk24.com
’n Moeilike week word verwag wat beurtkrag betref, het Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, Maandag gewaarsku.
Oor die naweek het ’n paar kragopwekkingseenhede onklaar geraak.
Die groot Drakensberg-pompopgaarskema se dam is net tweederdes vol, hoewel die damvlakke van die Ingula- en Palmiet-pompopgaarskema wel voldoende gevul kon word. Dit is kragstasies wat benut word tydens spitstye om beurtkrag te probeer versag.
“Ons gaan regtig ’n moeilike week hê,” sê Oberholzer.
Suid-Afrika het teen Maandag 15 opeenvolgende dae beurtkrag. Dit is tans op fase 2.
Vanjaar was daar tot dusver in 155 uit die 318 dae beurtkrag, dus 48,7% van die aantal dae.
Eskom het tans 20 000 MW wat nie beskikbaar is nie, waarvan 5 000 MW weens beplande instandhouding en 15 000 MW weens foute en eenhede wat onklaar geraak het.
Eskom se geld vir diesel is besig om op te raak, waarsku Oberholzer.
In die eerste ses tot sewe maande het Eskom al byna R12 miljard aan diesel bestee. Dít terwyl munisipaliteite se skuld aan Eskom nou al tot R52 miljard gestyg het.
Oberholzer het gepraat op die Energie-indaba van die Afrikaner-Afrika-Inisiatief, wat deur die Konrad-Adenauer-Stiftung en AfriForum ondersteun word.
Met verwysing na die noodsaak om instandhouding te doen, sê Oberholzer: “As jy nie respek toon vir ’n stuk masjinerie nie, sal jy verbaas wees hoe dit terugkom na jou toe.”
Transformasie
In die lig van die herrie oor onbekwame mense wat by Eskom aangestel is deur vorige bestuur, het Oberholzer beklemtoon dat hy glad nie teen transformasie is nie.
In die vier jaar wat hy terug is by Eskom, het hy nie een wit mens aangestel nie, sê hy.
Hy meen wel Eskom kon transformasie op ’n ander manier aangepak het. Met ondeurdagte transformasie het Eskom baie mense met baie ervaring en vaardighede laat gaan.
“Eskom het uitdagings met onervare kollegas. Daar is baie potensiaal en talent, maar ongelukkig is die enigste manier om ervaring te kry deur te werk.”
Koeberg
Oberholzer glo nie hernubare energie is die enigste oplossing vir beurtkrag nie. ’n Hibriede oplossing is nodig.
Oor die volgende 15 jaar sal Eskom tot 50 000 MW se kapasiteit moet bou. Dis omdat groenkrag nie 100% van die tyd beskikbaar is nie.
Hy meen kernkrag het ’n belangrike rol in die toekoms. Koeberg word uiters veilig bedryf – ’n internasionale spesialis besoek die land twee keer per jaar om die kragstasie te oudit.
Daar is tans uitdagings.
Hy was in Parys om met Framatome te praat oor die vervanging van die stoomgenerators by Koeberg.
Eenheid 1 se stoomgenerators sal nou in Desember vervang word, en eenheid 2 se stoomgenerators sal teen September volgende jaar aan die beurt kom.
Een van die oorsake van die kragkrisis was dat Eskom die twee nuwe steenkoolkragstasies, Medupi en Kusile, oorhaastig begin bou het sonder dat dit behoorlik ontwerp is.
“Ons het gebou terwyl ons dit ontwerp.”
Dit het beteken daar is baie latente defekte waaraan Eskom nou nog werk om dit uit te stryk.
Hy het verduidelik die 12 oorblywende steenkoolkragstasies – as Kusile en Medupi uitgesluit word – is gemiddeld 43 jaar oud. Dit is ’n ou en verwaarloosde stelsel wat “in die rooi gedryf word” en nie behoorlik in stand gehou word nie.
Noodplan vorder
Oor pres. Cyril Ramaphosa se noodplan vir die kragkrisis, het Oberholzer bevestig daar word weekliks vergader en daar is vordering.
Eskom se berekening is dat sowat R1 200 miljard bestee sal moet word voor 2035 om die nodige nuwe kragopwekkingsvermoë te bou wat nodig is om beurtkrag te beëindig.
Een van die groot probleme is die 8 500 km nuwe transmissielyne van meer as R150 miljard wat gebou sal moet word, en grondeienaars wat nie noodwendig dadelik kontrakte wil onderteken sodat kraglyne oor hul grond gebou kan word nie.
Oberholzer glo dit is egter ’n groot geleentheid vir Suid-Afrika wat betref belegging en werkskepping.
In Desember 2019 het hy al aan Ramaphosa gesê dat 4 000 MW tot 6 000 MW se nuwe kragopwekkingsvermoë dringend nodig is, maar sedertdien het Eskom nog net 125 MW bygekry.
Eskom kan met vraagkantbestuur byna 2 000 MW bespaar oor die volgende paar jaar deur sekere inisiatiewe in te stel soos afstandbeheerde geisers, besparing en doeltreffendheid.
