SA ‘kon al ver voor gewees het met klein kernkrag’ DEUR FRANCOIS WILLIAMS

Nov 16, 2022

Source Article: Netwerk24.com

As die regering nie die korrelbedkernreaktor-projek (PBMR) in 2010 nek om gedraai het nie, sou Suid-Afrika vandag die eerste land in die wêreld gewees het met ’n demonstrasiemodel van ’n klein modulêre kernreaktor.

André Pienaar, uitvoerende hoof en stigter van C5 Capital, het Maandag op AfriForum se Energie-indaba gesê Suid-Afrika het weens dié besluit van die regering die voorsprong of voordeel van byna 20 jaar se vordering en navorsing verbeur.

Volgens Pienaar speel kernkrag ’n baie belangrike rol in die land want dit lewer die betroubaarste en goedkoopste elektrisiteit.

Hy gee wel toe kernkrag gaan nie vinnig die kragkrisis oplos nie, maar dis ’n langtermyn-hulpbron wat ’n waardevolle en belangrike rol kan speel.

Anders as steenkool, wat al meer as 300 jaar gebruik word, is kernkrag relatief nuut, met die eerste kernkragstasies wat in die 1950’s in bedryf gekom het.

Danksy die PBMR het die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n aansienlike aantal kernwetenskaplikes opgelewer.

Maar Amerika lei nou die inisiatief om die eerste demonstrasiemodel te bou, met kundige Suid-Afrikaners soos dr. Eben Mulder wat daarby betrokke is, sê Pienaar. (Mulder is hoofwetenskaplike van die Amerikaanse maatskappy X-Energy wat ’n klein modulêre kernreaktor ontwikkel. Hy was voorheen betrokke by die PBMR en by NWU se kernprogram.)

Klein modulêre kernreaktors is inherent veilig en het verskeie nistoepassings soos mediese navorsing, kankerbehandeling en ruimte-eksplorasie. Die private sektor kan daarin belê.

Vandag is meer as 30 Afrika-lande besig met kernkragprogramme, en daar is dus groot geleenthede.

Suid-Afrika het goeie standaarde en regulering vir kernkrag, is ’n vertroude lid van die Internasionale Atoomenergieagentskap, en het universiteite wat kern-ingenieurs kan oplei.

Baie Afrika-lande wil hul kernkrag nou van verouderde kernreaktors van Rusland en China kry, maar Suid-Afrika kan die PBMR-model herhaal. Myne en nywerhede kan kernkrag gebruik sodat Eskom se krag herlei kan word vir die residensiële kragvraag.

Pienaar gee toe die uitdaging vir kernkrag is die reputasie daarvan. Kernkrag het ’n beter veiligheidsrekord as die mynbou- en steenkoolkragbedryf, maar word nie slim genoeg verduidelik en bemark nie.

Klein modulêre kernreaktors is soortgelyk aan dié wat al vir dekades in duikbote en vliegdekskepe gebruik word. Dit was die domein van die militêre bedryf, maar die tegnologie werk, is veilig en is toepaslik.

Daar is nou meer deursigtigheid en openheid oor gevorderde kernkrag, anders as in die verlede toe dit in geheimsinnigheid gehul was.

In Amerika, Kanada en Europa is daar reeds konsensus dat kernkrag ’n vorm van skoon energie is. As die proses van kernfusie eers suksesvol is, sal die probleem van kernafval heeltemal uit die weg geruim wees.

In die Amerikaanse deelstaat Washington het die owerhede besluit om ’n klein kernkragstasie te bou omdat groenkrag nie aan al hul kragvraag kan voorsien nie. Klein modulêre kernkrag is ook ideaal vir afgeleë landelike gemeenskappe en om landbou-ontwikkeling te bevorder, sê Pienaar.