Source Article: Maroela Media
“Gemeenskappe moet saamwerk om innoverende oplossings vir die voortslepende energiekrisis te vind om sodoende volhoubare gemeenskappe te bou.”
Só het Chris Opperman, die sameroeper van die Afrikaner-Afrika-Inisiatief (AAI), Maandag tydens ’n energie-indaba in Kaapstad gesê.
Tydens die indaba is gefokus op hoe belangrik dit vir munisipaliteite in die Wes- en Noord-Kaap is om hul energievoorraad te vergroot en te diversifiseer, sodat hulle nie net op Eskom hoef staat te maak nie.
Die AAI, wat 12 Afrikaner-organisasies en leiers verteenwoordig, het met die ondersteuning van die Konrad-Adenauer-Stiftung en AfriForum die indaba vir plaaslike owerhede georganiseer.
Die indaba is bygewoon deur burgemeesters van Mosselbaai, Plettenbergbaai, George en Riversdal in die Wes-Kaap, en Douglas, Springbok, Upington en Kimberley in die Noord-Kaap, asook kundiges uit die energiesektor en belanghebbendes uit die private sektor.
Volgens Opperman sal deelnemers aan die indaba ’n reeks opwindende alternatiewe tegnologieë bespreek, waaronder kern- en sonkrag-oplossings.
“Onafhanklike kragprodusente het onontbeerlik geword vir Suid-Afrika se energietoekoms. Gemeenskappe moet egter saamwerk om te verseker dat die politieke wil bestaan om hul belange aan te pak en nie net die belange van die private sektor nie. Ons moet verseker dat niemand agterbly nie,” het Opperman tydens die indaba gesê.
Bydraes deur ander sprekers het suksesverhale uit verskillende wêrelddele ingesluit, waar mikronetwerke bestaande uit hibriede oplossings vir hernubare energie groot sukses behaal het. Suksesstories van private energievoorsiening in Suid-Afrika is ook gedeel.
Johan Kruger, hoof van gemeenskapselfstandigheid by AfriForum, het die indaba bygewoon. Hy sê die meeste sprekers se boodskap fokus daarop dat gemeenskappe die geleenthede vir samewerking met pioniers in energie-innovering in die private sektor moet aangryp.
Die indaba is om 09:25 deur die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, geopen, waar hy dit duidelik gemaak het dat die Kaapse metro reeds ver gevorder het op die pad na groter energie-selfstandigheid, deur ooreenkomste met onafhanklike kragprodusente te sluit.
Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het tydens sy spreekbeurt nuwe lig gewerp op Eskom se rol in ’n vinnig veranderende energie-omgewing. Hy het beklemtoon dat Eskom alles moontlik doen om die kragkrisis op te los.
André Pienaar, ’n waagkapitalis en stigter van C5 Capital, het uitgewei oor sy betrokkenheid by die ontwikkeling van modulêre korrelbed-kerntegnologie. “Dit is duidelik dat kernenergie ’n groot rol kan en moet speel om dorpe en stede in die toekoms energie-onafhanklik te maak,” het hy gesê.
Dr. Theuns Eloff, medevoorsitter van die AAI, het beklemtoon dat ’n wye verskeidenheid van rolspelers nou begin saamwerk, iets wat nie voorheen gebeur het nie.
“Afrikaner-organisasies is gereed om hul deel te doen om die energiekrisis op te los en bied hul kundigheid en tegniese kennis tot voordeel van die land aan. AfriForum en Solidariteit, Neasa, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Saai, Sakeliga, die FAK, die Vryheidstigting en die Afrikanerbond werk saam onder die AAI se vaandel om Suid-Afrika op baie terreine van diens te wees,” het Eloff gesê.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het ook die rol beklemtoon wat gemeenskappe kan speel om oplossings te vind.
Volgens Kruger en Opperman is die regering dit aan die land en sy burgers verskuldig om munisipaliteite aan te moedig om alternatiewe energie-oplossings te vind en nie net op Eskom staat te maak nie.
“Eskom bly ’n belangrike rolspeler, maar gemeenskappe het betroubare energievoorsiening nodig om te floreer en vooruit te gaan. Ons het die antwoorde, maar munisipaliteite sal moet optree en vernuwe om op plaaslike vlak ’n ommekeer op energieterrein te bewerkstellig. Daarom moet ons besef ons moet hande vat met plaaslike gemeenskappe, munisipaliteite, Eskom en onafhanklike kragprodusente om volhoubare energie-oplossings te vind. Daar moet egter ook die wil wees om dit te laat werk,” het Kruger en Opperman gesê.
