Politieke Notaboek | Hee-ha! ’n Mbeki-comeback en ander fabels DEUR MAX DU PREEZ

Nov 11, 2022

Source Article: VryeWeekblad

MAX DU PREEZ skryf oor die Phala Phala-kierankies wat braai, oor die Menseregtekommissie wat uiteindelik Julius Malema se tjank aftrap en oor die einde ten laaste van die rogue unit-sage.

DAAR is ’n kans, dalk nie ’n waarskynlikheid nie, maar ’n kans, dat Cyril Ramaphosa nie ’n kandidaat in die komende ANC-leierskapsverkiesing gaan wees nie – wag, daar is selfs ’n kans dat hy oor twee weke nie meer ons president gaan wees nie.

Wat dan? Is ons aan Zweli Mkhize uitgelewer? Of gaan Thabo Mbeki ’n comeback maak? Of dalk gaan Kgalema Motlanthe ’n tweede keer ’n toesighouer-president word?

Want sien, die Phala Phala-kierankies begin braai. Ná maande se vinnige voetwerk, koes en twakpraat gaan ons binne die volgende ses dae weet of Ramaphosa oor Phala Phala gelieg het en of hy dalk aangekla gaan word, al is dit net vir ’n tegniese valuta-oortreding. Want dan moet hy opsy staan, nè, nes Ace Magashule.

Die ANC se integriteitskomitee doen vandag aan die nasionale uitvoerende komitee verslag oor hulle ondersoek na Phala Phala en die voorlegging wat Ramaphosa aan hulle gemaak het.

Dit kan dalk nóg vinnige voetwerk beteken, maar volgende week moet die onafhanklike paneel van oudregter Sandile Ngcobo aan die parlement rapporteer of hulle glo daar is ’n prima facie-saak teen Ramaphosa. Dié regter gaan hom waarskynlik nie steur aan wat juis in die ANC se belang is nie.

Of het Ramaphosa dieselfde truuk op Ngcobo se paneel getrek as op ons, die burgery: Ek kan niks sê nie, want die wetstoepassers ondersoek die saak?

Slim Thabo het dit al ’n tyd gelede voorsien en by ’n ANC-byeenkoms gevra: Wat gaan die ANC maak as Ngcobo en sy mederegters – of natuurlik die waarnemende openbare beskermer, wat Phala Phala nou al maande lank ondersoek – bevind daar is inderdaad ’n saak teen die president?

Dié week skryf die gryse polemikus en politieke waarnemer RW Johnson dat daar ’n kans is dat Mbeki hom dan beskikbaar kan stel om as ANC-president herkies te word.

Thabo is wel al 80, maar hy is fiks en skerp – veel skerper as die twee top- Amerikaanse politici, Joe Biden en Donald Trump.

Dit klink verregaande dat die man wat in Augustus 2008 so onseremonieel as president uitgeskop is, nou sy terugkeer sou wou maak.

Maar dit sou sy gedrag die laaste jaar of so verklaar. Ná jare se absolute stilte het hy eers by die Afrikaner-Afrika-inisiatief (waarvan Solidariteit en AfriForum deel is) betrokke geraak en toe toenemend op die politiek van die dag begin kommentaar lewer.

Hy was die laaste paar maande herhaaldelik op ’n ANC-verhoog of op televisie en sy rapport oor die Ramaphosa-administrasie was alles behalwe rooskleurig. Boonop het hy onlangs weer sy hoogs omstrede standpunt oor MIV en vigs probeer verduidelik.

Ek kan self getuig dat Mbeki en sy gevolg nou al maande lank aktief skinder oor watter onbeholpe, swak leier Ramaphosa is.

Johnson skryf: “Mbeki is a thoughtful man who thinks well ahead, so he has probably been considering this situation for some while. He is well aware that he lacks the sort of regional or ethnic following which made Zuma so formidable. So there is no chance of his being swept to power on a wave of support. His chances depend simply on the dire state of the country, the fact that the election of any RET candidate would spell the early collapse of the party and state, and Ramaphosa’s proven inability to halt the process of decline.” Lees sy hele stuk hier. 

Die ander leiers wat kandidate vir die ANC-leierskap wil wees, is Mkhize, Lindiwe Sisulu en Nkosazana Dlamini-Zuma. Al drie het hulle die laaste twee weke by eNCA, Newzroom Afrika en die SABC vir lang onderhoude gaan aanmeld.

Maar KwaZulu-Natal steun amptelik vir Mkhize en dit lyk asof die meeste RET-elemente agter hom gaan staan, so Sisulu en NDZ se kanse lyk skraal.

Maar Mkhize staan nie net onder die donker wolk van verdenking weens die Digital Vibes-sage nie, hy het boonop die charisma van ’n muskiet en het in die laaste leierskapsverkiesing baie swak gevaar.

Die kanse dat die huidige vise-president, David Mabuza, ANC-leier gaan word, is nul. As die hoofstroom-ANC vir Ramaphosa as kandidaat verloor en geen maag vir Mkhize het nie, sal hulle dalk vir Paul Mashatile, tesourier van die ANC, gaan?

Of raak Mbeki dan skielik ’n aantreklike opsie? Mbeki het groot foute as president begaan, veral met die MIV-debakel en die vergoeiliking van Robert Mugabe se steel van die Zimbabwe-verkiesing. Maar hy was ’n goeie administrateur en het die ekonomie baie beter as sy opvolgers bestuur.

Dalk nie so ’n slegte idee nie? (Liewe hel, dit wys jou hoe ver ons gedaal het.)

Gevind: die MRK se ruggraat

Dit lyk asof die Menseregtekommissie (MRK) ’n deurbraak-ontdekking gemaak het: Hulle het hulle eie ruggraat gevind.

Die MRK het bevind dat Julius Malema van die EFF haatspraak gepleeg en geweld aangeblaas het toe hy verlede maand op ’n EFF-vergadering onder meer gesê het: “You must never be scared to kill, a revolution demands that at some point there must be killing, because the killing is part of a revolutionary act.” Daar was ook ’n banier by die byeenkoms wat gelees het: “A revolutionary must become a cold killing machine motivated by pure hate.”

Die EFF weier om om verskoning te vra. Hulle is nie die geleentheid gegee om hulle kant van die saak te stel nie, sê die woordvoerder, Sinawo Tambo.

Waarop die MRK-voorsitter, Bongani Majola, gesê het die video waarop Malema die gewraakte woorde uiter, is duidelik en onomstootlik. Dis nie as of hy Trevor Noah is en daarmee kan wegkom dat dit net ’n grappie was nie, sê Majola.

Wel, Malema kom nou al jare lank daarmee weg om haat en geweld te stook en niemand het nog die guts gehad om hom regtig in die bek te ruk nie – AfriForum se poginkie was flou en het geboemerang.

Dalk is dié geval die strooi wat die kameel se rug breek.

G’n meer rogue unit-twakpraatjies nie

Ek is vandag bly vir my ou vriend en gespreksgenoot Johann van Loggerenberg, die man wat lank teen die kaping van die Inkomstediens geveg het en daarna deur die EFF, Iqbal Survé se koerante en die geskorste openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, beswadder is dat hy ’n onwettige, onetiese “rogue unit” gelei het.

’n Volbank van die Konstitusionele Hof het uiteindelik gister Mkhwebane se aansoek om verlof tot appèl geweier. Sy wou appelleer teen die 2020-bevinding van die hooggeregshof dat haar verslag oor die eenheid irrasioneel en bevooroordeeld was.

En nou, uiteindelik, is die sage iets van die verlede. Dankie vir jou veggees, Johann, en mag jy nou vrede ervaar.