Haal angel uit gesprek oor wit en bruin DEUR HEINDRICH WYNGAARD

Nov 6, 2022

Source Article: Netwerk24.com

Minderhede kan nie ‘heuning’ deel terwyl hul ‘besteke’ verduur, skryf Heindrich Wyngaard.

Heuningbye is bekend as ’n lid van die insektefamilie wat sorg vir heuning, byewas én die bestuiwing van gewasse, maar dit is tegelykertyd die draers van ’n angel wat slagoffers met ’n pynlike steek laat.

Die einste heuningby is middel Oktober as metafoor ingespan deur dr. Lucky Mathebula, ’n spreker by ’n Johannesburgse byeenkoms van die Afrikaner-Afrika-inisiatief (AAI) – ’n projek wat in samewerking met die Thabo Mbeki-stigting begin is. Die tema van die beraad, wat deur die Duitse Konrad Adenauer-stigting gesteun is, was “Unity in Diversity – Democratic Consolidation in a Plural Society”.

Mathebula, ’n beleidsontleder, het die heuningby gebruik as metafoor om Afrikaners se posisie in die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing te beskryf: enersyds as ’n angel in die vlees van sommige ander groepe; andersyds as die heuningmaker. Die Afrikaner-gemeenskap moet daarteen waak dat hulle nie slegs ervaar word as ’n angel wat steek nie, was die breë strekking van sy standpuntstelling. Dit is belangrik dat hulle ook die heuning met ander moet deel.

Terugskouend sou ’n mens Mathebula daarop kon (tereg)wys dat die AAI op sigself tog ’n inisiatief is waarmee ge­poog word om presies dít te doen waarvoor hy pleit. Dié inisiatief is tog “gebou op wedersydse respek en die bou van alliansies om die probleme van die land saam aan te pak”, soos die sameroeper, Chris Opperman, dit einde Februarie verlede jaar teenoor Netwerk24 gestel het.

My eie aanvanklike skeptisisme oor dié alliansie, geskoei op die afwesigheid van bruin Afrikaanssprekendes, is besweer deur die geleentheid om self die Oktober-byeenkoms te kon toespreek. Dit het ek aangewend om spesifiek lig te werp op die lot (laagste persentasie tersiêre onderrig, hoë werkloosheid) van die “bruin kind”, afstammeling van ’n byna uitgewisse inheemsheid.

Waarom was dié fokuspunt relevant binne die raamwerk van so ’n Afrikaner-Afrika-gespreksforum? Die kort antwoord: Bruin mense is die tweede grootste bevolkingsgroep in die land en die meerderheid sprekers van Afrikaans, maar ekonomies en kultureel is ons ’n meerderheid binne ’n minderheid.

Die inspirasie vir die grootste deel van my praatjie is egter geput uit ’n toespraak wat Mbeki op 27 April 1995 in Sydney, Australië, by die Global Cultural Diversity-konferensie gelewer het. Tema: Die prosesse en omstandighede wat gelei het tot ’n onderhandelde skikking van die Suid-Afrikaanse vraagstuk, “eerder as oorlogvoering tot die bitter einde”.

Geen van die twee strydende kante het gewen nie – nóg die vryheidsbewegings nóg die apartheidsregering – en het derhalwe genoeg slaankrag oorgehad om die ander leed aan te doen. Albei kante was egter goed bewus daarvan dat die waarskynlike resultaat van voortgesette konflik sou wees, aldus die destydse adjunkpresident, “dat wie ook uiteindelik as oorwinnaar uit die stryd tree, heel moontlik oor ’n woesteny sou heers”.

Mbeki het twee belangrike gevolgtrekkings gelys oor die “aanvaarbare akkommodering” van die uiteenlopende belange van kultureel-diverse samelewings. Ruimte vir die “identifisering, uitbreiding en propagering van sodanige belange”, was een daarvan. Om dié punt te bereik, moes Suid-Afrikaners ’n tweelingkonsep skep, ’n samebinding van versoening met “die ewe kritieke doelwitte van transformasie”.

Hiermee saam moes rasseverdrukking en rasse- en etniese verdeling ook deur nasionale eenheid vervang word, terwyl die kulturele diversiteit van die nasie erken, gerespekteer, verdedig en geëerbiedig moes word. Die keersy van dié muntstuk – dominasie van die kulturele meerderheid – sou altyd vrede en stabiliteit in die gevaar stel, het Mbeki benadruk.

Omstandighede moes derhalwe geskep word vir demokratiese, ope en betekenisvolle deelname van álle rolspelers, hoe klein ook al, in die lotsbepaling van die land. Die gepaste benadering was dat die regte van die “demokratiese meerderheid” bevestig word. Maar ten einde (’n nuwe soort) oorheersing te voorkom, moes minderhede terselfdertyd die “demokratiese ruimte” gebied word om op ’n betekenisvolle wyse aan beleidmaking deel te hê.

Nou waarom, in weerwil van Mbeki se herinnering aan die inklusiewe uitkoms van die veelparty-onderhandelings, word minderhede nie behoorlik geag vandag nie? Hoekom word daar in sekere gevalle ’n stokkie voor gesteek as hulle wil meedoen aan die herstel en instandhouding wat dringend nodig is om ’n algehele “woesteny” in plaaslike bestuur te voorkom?

Wat het gelei tot die (wan)opvatting dat alle wysheid, kennis en kundigheid by een bevolkings- of politieke groepering gesetel is nadat ons tog sekerlik in die voor-demokratiese era geleer het dat dit nie, nooit en nêrens die geval is nie?

Dit is belangrik dat minderhede hierteen vasskop deur aktiewe betrokkenheid by burgerlike organisasies, belastingbetalersverenigings, skoolbeheerliggame, parlementêre voorleggings oor diskriminerende (of “dominerende”) wetgewing en óók deur druk op opposisiepartye te plaas om harder daaraan te werk om tot ’n vergelyk te kom in koalisievorming.

Om Mathebula se pleidooi op sy kop te keer kan ons immers nie toelaat dat van minderheidsgroepe verwag word om gedurig hul “heuning” met die meerderheid te deel, terwyl hulle self heeltyd politieke “bysteke” moet verduur nie.