Kô, lat ons praat DEUR PIET CROUCAMP

Oct 21, 2022

Source Article: Vrye Weekblad

Pogings tot ’n beter verstaan van mekaar se leefwêrelde is van kardinale belang, want Suid-Afrikaners durf nie op mekaar opgee nie, skryf PIET CROUCAMP oor ’n onlangse gesprek tussen minderhede en ’n ANC-indaba van ’n dekade gelede.

SO ’n dekade gelede vra die kantoor van die destydse sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, my om ’n gesprek tussen die ANC en Afrikaners te fasiliteer.

Nadat ons soveel moontlik organisasies verteenwoordigend van Afrikaner-politiek geïdentifiseer het, daag ongeveer 100 verteenwoordigers van ’n breë spektrum Afrikaner- en Afrikaanse organisasies op om aan die gesprek deel te neem.

Flip Buys en Solidariteit het geweier om die geleentheid by te woon en het met reg aangevoer dat soortgelyke pogings tot redevoering in die verlede vrugteloos gesneuwel het omdat die ANC selde indien ooit uitvoering gee aan die besluite wat geneem of ondernemings wat gegee word.

Ek het Buys eers (sonder sukses) op RSG probeer oorhaal om deel te neem.

Dié openbare woordewisseling tussen my en die voorsitter van die Solidariteit Beweging het meermale in ’n onsmaaklike argument ontwikkel. Ek het geweet daar is min dinge wat Flip so ontstel as wanneer jy sy idees probeer stigmatiseer deur na hom as regs of verregs te verwys. Tydens een van die gesprekke op RSG se Monitor-program het die andersins besadigde Buys dit amper verloor.

Terloops, niks wat Mantashe en Mathews Phosa op daardie dag aan die Afrikaners teenwoordig onderneem het, het ooit tot wasdom gekom nie.

’n Gesprek tussen minderhede

’n Jaar of wat gelede kom sien Chris Opperman, inisieerder van die Afrikaner-Afrika-inisiatief (AAI), my met die versoek om deel te word van ’n gesprek tussen minderhede.

Soos Buys destyds wys ek die geleentheid van die hand. Ek is nie deel van enige minderheid nie en het geen behoefte om ’n Afrikaner te wees of my met hulle te bemoei nie.

Meer onlangs ontvang ek weer ’n uitnodiging van Opperman om die vergadering in Johannesburg by te woon. Max du Preez het die AAI se pogings onlangs in ’n goeie lig gestel en ek aanvaar die uitnodiging.

Die AAI se vergaderings herinner aan verkennende gesprekke wat soekend is na ’n standhoudende en universele konsensus vir dit wat die partikulêre sowel as die algemene belang sal dien. Minderhede se basisargument is dat die meerderheidsbeginsel groepsbelange én demokrasie ondermyn eerder as bevorder. Gekonsolideerde demokrasieë ag die werklikhede van minderhede as gelykwaardig aan dié van meerderhede.

Die verskil tussen Opperman se inisiatief en dít wat ons saam met Mantashe probeer doen het, is dat daar geen verpligting is om bepaalde ooreenkomste te bereik of te implementeer nie. Nie een van die partye hoef uitvoering te gee aan ’n stel ooreenkomste nie. Die gesprek op sigself is die einddoel.

Die indaba van destyds met die ANC het die hoop gekoester dat die stelsel en die politiek-ekonomiese spelreëls gewysig kon word om diversiteit – of dan minderhede – meer genadig te wees.

Maar die ANC se politieke DNS is gerig op die tirannie van die meerderheidsbeginsel en hulle sou dit slegs kon prysgee deur ’n verkiesing te verloor. Dié beginsel forseer die illusie van konsensus, soveel so dat kompromieë as onnodig of selfs ongewens gereken kan word. Dit gesê, ’n meerderheidsbeginsel gegrond op konsensus resoneer met my persoonlike politieke instinkte.

Maar pogings tot ’n beter verstaan van mekaar se leefwêrelde is van kardinale belang, want ons durf nie op mekaar opgee nie.

Gesprekke tussen mededingende opinies bly die sinvolste manier om konflik te verhinder of te besleg. Ons weet die waarskynlikheid van konsensus is skraal, maar die feit dat ons desondanks met mekaar praat, is belangriker as die dwingelandy van ’n kunsmatige gemeensaamheid.

In die afwesigheid van formele ooreenkomste word informele ooreenkomste die enigste weg en waarheid uit die slegste denkbare scenario’s.

My verskille met die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) en Gabriel Crouse se aanbieding by die AAI-gesprek was ’n hengse frustrasie.

Sy bewering dat die nuwe Onteieningswet die implikasie het dat die staat plase goedsmoeds kan onteien, is wat my betref eenvoudig nie waar nie. Sy verstaan van IRV-navorsing dat 80% van swart Suid-Afrikaners geen rassistiese ervaring oor ’n termyn van twee jaar gehad het nie, behoort ook gekwalifiseer te word.

Ek en die Wits-akademikus Roger Southall, wat ook die vergadering bygewoon het, was dit eens dat die IRV se data meer waarskynlik iets vertel van hoe min interaksie daar tussen die meeste wit en swart Suid-Afrikaners is, eerder as om ’n aanduiding van goeie rasverhoudinge te wees.

Ongeveer 30% van swart mense bly in diep landelike areas en kry baie selde met wit mense te doen. Die miljoene inwoners van informele nedersettings leef ’n benoude ekologie van oorlewing en sien wit Suid-Afrikaners meer waarskynlik op die hoofpad ’n kilometer weg. Selfs wanneer ons mekaar van naderby in winkelsentrums sien, is dit ’n hoogs gereguleerde omgewing wat geen aanduiding van ons verhouding met mekaar is nie.

Crouse behoort sy data meer krities te lees, eerder as om ’n bepaalde ideologiese disposisie te veronderstel en sy inligting daardeur te filtreer.

Van Piet Retief tot Grondwet van ’96

Maar Afrikaners het eintlik ’n lang geskiedenis van hulle teenwoordigheid in Afrika onderhandel en ook heronderhandel – vanaf die futiele pogings van die Voortrekkerleier Piet Retief op 6 Februarie 1838 tot die meer suksesvolle gesprekke tussen die sogenaamde Dakar-gangers en die ANC in 1987. 

Terwyl Retief die politieke spelreëls van sy tyd wou onderhandel, het die Dakar-gangers verkennende gesprekke gevoer met die doel om ’n niemandsland te karteer waar almal bereid was om mekaar op die lange duur te verduur. 

Die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 is ’n kompromis tussen mededingende elites, maar moontlik is daar ’n verwortelde konsensus in al ons kompleksiteit dat daardie kompromis in die algemene belang is.

Die feit dat politieke elites soms op ’n opportunistiese wyse daarop aandring dat die Grondwet heronderhandel moet word, is nie ’n bevestiging van ’n algemene wederstrewigheid wat betref die spelreëls of die onderliggende waardes daarvan nie.

Dit is nie onmoontlik dat daar aansienlik meer konsensus oor die algemene belang is as wat aktiewe minderheidsleiers wil insinueer nie.

Sosiale kontrak die einddoel

Soos wat die dag by die AAI-vergadering draal, word dit al hoe duideliker dat die oplossings vir ons probleme min is en die vrae baie.

Sommige sprekers begin praat oor hulle persoonlike en geleefde ervarings.

’n Vrou van KwaZulu-Natal vertel van ’n 102 jaar oue besigheid wat in die Julie 2021-geweld geplunder en onder die golwe van verwoesting ingetrek is. ’n Man praat oor ’n gewapende rooftog; die rol van Zimbabwiërs in misdaad kom ter sprake. Daar is geen twyfel dat dit vir hom ’n verskriklike ervaring was nie.

Xenofobiese regverdigings draal net onder die oppervlak van die persoonlike narratiewe. Diversiteit is duidelik nie net wit en swart nie.

Teen die tyd wat iemand die voorstel maak dat ons liewers die verlede moet vergeet, die hede konsolideer en die toekoms bou, is daar weinig van die normale wederstrewigheid wat so ’n geykte minderheidsopinie normaalweg ontlok.

Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies vra my of ek dink enige vordering is op dié dag gemaak? “Ja, dalk tog, afhangende van jou verwagtings.”

Ek is onseker of enige van die teenwoordiges die spanningsvolle verskille tussen konsensus en kompromis bedink het. Soos die gespreksleier, Theuns Eloff, heeltemal tereg aangevoer het, is die einddoel van periodiese en voortdurende gesprekke om uiteindelik ’n sosiale kontrak te formuleer ter wille van Suid-Afrika se vreedsame naas- en voortbestaan in diversiteit.

Die duiwel kon dalk geskuil het in die nate en voue van die detail, maar vir eers was dit minder belangrik.

Deernis van ’n ‘verregse’

Dalk ’n laaste persoonlike ervaring. In 2016/’17 word ek by die Universiteit van Johannesburg (UJ) afgedank. Kort daarna kry my kind kanker en ek sit vir ses maande in ’n intensiewesorgeenheid by ’n hospitaalbed. Jou vermoë om regop te bly ter wille van jou kinders word aan ’n godsverstommende spanning blootgestel.

My situasie en finansies is absoluut benard. Op sosiale media word ek met my lewe gedreig en my kinders se skole word sinies op Facebook vermeld.

In dié tyd word ek op aanbeveling van ’n vriend ’n tydelike pos by die Noordwes-Universiteit in Mahikeng aangebied.

Een van die teenwoordiges by die AAI-vergadering bel die universiteit se bestuur en probeer hulle in ’n priesterlike gebaar oortuig om my onder geen omstandighede aan te stel nie.

Enkele meters van hom sit ’n ander een wat in daardie onmenslik-moeilike tye op ’n indirekte wyse ’n vriend van my laat weet: “Laat Piet Croucamp in sy stryd met UJ vir hom die beste regspan kry wat daar is en stuur die rekening vir my persoonlik.”

Die onvoorspelbare deernis van ’n “verregse”.