Die struikelende staat, AfriForum en Boer-maak-’n-Plan op steroids DEUR MAX DU PREEZ

Jul 8, 2022

Source Article: VryeWeekblad

DAAR behoort geen plek vir organisasies soos AfriForum en Solidariteit in Suid-Afrika van 2022 te gewees het nie.

Dit is ’n selfgeldende beweging van die gewese onderdrukkersklas wat eksklusief Afrikaans en Christelik is en “selfbestuur” bepleit, nou nie juis in harmonie met ons Grondwet wat nierassigheid in ’n sekulêre eenheidstaat soek nie. Ná eeue van wit oorheersing en onderdrukking voel ’n oplewing van Afrikanernasionalisme onvanpas en ongewens.

Ek self het die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum die meer “politieke” regte-organisasie is, al in die verlede van gevaarlike etniese mobilisering beskuldig. Ander kritici het dit al as die grootste gevaar vir ons demokrasie beskryf en in die breë swart gemeenskap het die naam AfriForum sinoniem met Afrikaner-arrogansie en selfs rassisme geword.

Maar nou is dit Julie 2022.

Die staat val uitmekaar. Burgers kry nie die dienste waarvoor hulle belastinggeld betaal nie. Niemand voel meer veilig nie. Onstabiliteit broei net onder die oppervlak. Daar is ’n oorweldigende verlamming in politieke leierskap. Die gewese bevrydingsbeweging wat al sedert 1994 regeer, lyk baie soos ’n kriminele sindikaat. Die parlement is afgebrand en die krag is af. Nierassigheid is soos die Paashaas.

In dié chaos groei die Solidariteit Beweging tot meer as ’n halfmiljoen gesinne, seker die mees aktiewe en kapitaalkragtige nieregeringsorganisasie in die Suidelike Halfrond. Hulle bou ’n tegniese kollege en ’n universiteit (Akademia), staan behoeftiges by, help om gemeenskappe veilig te hou en plaaslike dienste te verskaf. Hulle het hulle eie mediamaatskappy, Maroela Media, ’n radiostasie, ’n teater en nou ook AfriForum TV.

“Boer maak ’n plan” op steroids.

Teësinnige respek

AfriForum se konfrontasionele aanslag het baie swart Suid-Afrikaners die harnas ingejaag, maar deesdae is daar ’n teësinnige respek ook te bespeur: In die staat word alles gesteel en gemors, maar Solidariteit bóú.

’n Mens sien dit al hoe meer op sosiale media: swart mense wat vir die ANC en Cosatu vra hoekom hulle nie meer soos Solidariteit kan wees nie.

’n Goeie voorbeeld is die R431 miljoen wat die Gautengse regering aan die kastige “dekontaminasie” van skole bestee het teenoor die R200 miljoen wat Solidariteit bestee het om ’n heel nuwe kampus vir ’n beroepskollege, Sol-Tech, te bou – binne die begroting en tydraamwerk van 15 maande. Elektrisiëns, meulmakers, werktuigkundiges, sweisers en passer-en-draaiers word daar in Afrikaans opgelei.

Toe adv. Gerrie “Bulldog” Nel, ’n gewese staatsadvokaat en aanklaer met ’n gedugte reputasie, in 2017 hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid geword het, is hy kwaai gekritiseer. Vandag is daar nogal konsensus dat dié eenheid waardevolle werk in die openbare belang en vir die oppergesag van die reg doen.

Nel het veral sy kritici begin stilmaak toe dit duidelik word dat hy nie op benadeelde Afrikaners of wittes fokus nie. Sy regshulp aan die familie van die vermoorde sokkerster Senzo Meyiwa het veral koppe laat draai.

Swart gemeenskappe

AfriForum self het duidelik ook hulle beperkte fokus uitgebrei en, volgens gesprekke wat ek dié week met senior AfriForum-leiers gehad het, is deesdae ook by projekte by verskeie swart plaaslike landelike gemeenskappe betrokke.

Die Solidariteit Beweging is eintlik in sonde gebore en ontvang. Flip Buys was die organiseerder van die verregse Mynwerkersunie (MWU), maar ’n gans ander dier as die vader van die MWU, Arrie Paulus: Hy is ’n diep denker en strateeg.

Buys het die Israelse en Poolse vakbondbewegings Histadrut en Solidarnosc bestudeer en die MWU tot Solidariteit hervorm; as vakbond, maar uiteindelik as kern van ’n hele groep organisasies wat Afrikaans en Afrikaners wil beskerm. (’n Gerekende Europese politieke filosoof het die ander dag die stigting van Solidariteit ’n “stroke of genius” in ’n gesprek met my genoem.)

Buys het later twee jong leiers in die regse politiek, Dirk Hermann en Kallie Kriel, betrek. Hermann is bedryfshoof van Solidariteit en Kriel is bestuurshoof van AfriForum, maar Buys bly die brein en filosoof van die beweging.

Dié sin uit Solidariteit se webwerf is tipies Buys: “Ons klou nie aan ’n verouderde ideologie vas of jaag vreemde doelwitte na nie, maar streef bloot ’n normale samelewing na waarin almal blywend vry, veilig en voorspoedig kan lewe.” Dis soos melktert: Wie kan dit nou haat?

Lelike goed gesê

Die gesprek wat ek dié week met AfriForum-leiers gevoer het, was nie ’n jaar of twee gelede moontlik nie. Die wantroue en wedersydse politieke weersin was te groot. Ons het al lelike goed vir mekaar gesê.

Dit was die Solidariteit Beweging se deelname aan die Afrikaner-Afrika-Inisiatief (AAI) saam met die Thabo Mbeki-stigting wat my laat begin wonder het of die winde van verandering begin waai. Die AAI, ’n inisiatief van die ouddiplomaat Chris Opperman wat nou deur hom en Theuns Eloff gelei word, is vroeg verlede jaar formeel geloods.

Ek het toe vir ’n paar van die deelnemers gesê: Julle weet, manne, julle is die ouens wat ons in 1987 as verraaiers, meelopers en kommuniste uitgekryt het toe ons in Dakar met Thabo en sy medeleiers in ballingskap vergader het. Hierdie is júlle Dakar, en liewer laat as nooit. (Gaan lees gerus meer van die AAI by aai.org.za.)

Ek is seker my gesprek met AfriForum was ’n bietjie van ’n charm offensive van hulle kant, maar ek het ook ’n nuwe realisme en pragmatisme raakgesien.

My indruk is dat hulle meer selfvertroue as in hulle beginjare het, toe hulle ietwat woes was met hulle uitlokkende retoriek, verpolitisering van plaasmoorde en oproepe aan regse buitelandse organisasies om die Suid-Afrikaanse regering te isoleer. Hulle was beslis skuldig aan ’n gesmous met vrees om lede te werf.

G’n meer Oranje Blanje Blou

Daar is natuurlik steeds ’n klompie wildejakkalse, maar die leierskap lyk veel meer polities volwasse en strategies ingestel. Daar is nou ’n besef dat die kru middelvingerwysery aan die regerende establishment teenproduktief en beslis nie in die belang van die Afrikaners is nie. Hulle wil nou van die rassis-etiket ontslae raak. G’n meer plasings van die Oranje Blanje Blou op sosiale media nie.

Die selfvertroue kom seker deels uit die nogal skouspelagtige suksesse van die beweging, eintlik maar die enigste bul in die Afrikanerkraal, maar dalk ook uit hulle kontak met swart Suid-Afrikaners en leiers soos dié van die Thabo Mbeki-stigting.

Maar hulle voel ook die gebeure in die land die laaste jare het hulle aanvanklike ontleding en strategieë bevestig; dat dit onvermydelik was dat die ANC die land stelselmatig sou verinneweer en dat strukture vir selfstandigheid en selfbestuur in plek gesit moes word.

As my skrywe tot dusver die indruk wek dat AfriForum en Solidariteit liberale neigings begin toon, moet ek dit vinnig regstel. Die beweging se klem op konserwatiewe, Christelike Afrikanernasionalisme bly onveranderd.

AfriForum stel sy missie self só: “AfriForum werk om te verseker dat daar aan die basiese voorwaardes vir die voortbestaan van Afrikaners voldoen word deur as ’n geloofwaardige Afrikanerbelangeorganisasie en burgerregtewaghond – wat deel van die Solidariteit Beweging vorm – buite die werksplek op internasionale, nasionale en plaaslike vlak die impak van die huidige politieke werklikhede op Afrikaners te hanteer en te probeer beïnvloed terwyl daar terselfdertyd gewerk word om volhoubare strukture te vestig waardeur Afrikaners selfstandig hul eie voortbestaan kan verseker.”

Ek dink daar is ’n saak vir die argument uit te maak dat die Solidariteit Beweging goed is vir stabiliteit. Baie Afrikaners is vreesbevange en voel gemarginaliseerd. Solidariteit en AfriForum gee aan hulle ’n veilige hawe, kanaliseer hulle negatiewe energie en ontneem die ekstremiste van vrugbare teelgrond.

Wees soos Gift of the Givers

Die Boere en die Zoeloes is die twee stamme in Suid-Afrika wat die sterkste oor hulle etnisiteit voel. As Zoeloesprekendes ’n Solidariteit Beweging gehad het, sou ons dalk nie ’n jaar gelede die verwoestende anargie in veral KZN gesien het nie, en sou KZN nie so polities onstabiel gewees het nie.

Ek het nog nooit die Solidariteit Beweging se prestasies ontken nie, maar ek het al by verskeie geleenthede die wens uitgespreek dat die beweging sy hulpbronne, energie en vaardighede, in ’n groot mate die resultaat van geslagte van wit bevoorregting, op die breër gemeenskap eerder as net wit Afrikaners bestee. Soos Gift of the Givers.

Dalk beweeg Solidariteit en AfriForum nou nader hieraan, maar hulle glo vas dat hulle krag in die honderdduisende Afrikaners lê wat die beweging met hulle maandelikse bydraes aan die gang hou. Dit, glo hulle, moet hulle primêre fokus bly.

Wie weet, as dinge vorentoe regtig kwaai skeef gaan loop, gaan vandag se kritici van Solidariteit en AfriForum dalk hulle woorde sluk.

As ek namens my en my huis mag praat: Ek hou my maar by bewegings soos die Defend Our Democracy Campaign as ek êrens moet betrokke raak. Ek is nie ’n politieke Afrikaner nie, ek is net Afrikaans omdat my ouers Afrikaners was en ek so grootgeword het en ek lief is vir Afrikaans.

(Ek dink Flip en Kallie gaan nogal verlig wees om dit te hoor. Hulle sal ’n ernstige beeldprobleem hê as ek die dag my two-tone-hemp aantrek (net om  my Black Lives Matter T-hemp weg te steek) en ’n AfriForum-lid word.)

Sterkte anyway, manne. Hou tog net die magtige dreuning in toom.