Source Article: Netwerk24.com
’n Gebrek aan vertroue onder die breë bevolking dat parlementêre prosesse en die regering die wil en vermoë het om gewone Suid-Afrikaners se lewe te verbeter, lei al hoe meer tot die bedryf van buite-parlementêre politiek, skryf Theuns Eloff.
Vir dié onder ons wat ná 1970 gebore is, is die begrip “buite-parlementêre politiek” waarskynlik ’n vreemde een.
In die 1980’s het daar ’n breë beweging ontstaan onder die sambreel van die United Democratic Front (UDF). Dit was enersyds in wese die binnelandse vleuel van die ANC, bestaande uit ’n magdom burgerlike samelewingsorganisasies, vakbonde en kerke.
Vir dié onder ons wat ná 1970 gebore is, is die begrip “buite-parlementêre politiek” waarskynlik ’n vreemde een.
Die UDF het die bevryding van die meerderheid Suid-Afrikaners ten doel gehad deur die gebruik van betogings, optogte, stakings en ander vorme van openbare teenstand teen apartheid. Andersyds was die UDF ’n organisasie wat besluit het om buite die parlementêre (en daarom tradisionele partypolitieke) kanale te werk – veral omdat die meerderheid Suid-Afrikaners nie toegang tot die parlement gehad het nie en natuurlik omdat daar geen vertroue was dat die parlement en partypolitieke prosesse apartheid tot ’n einde sou bring nie.
Hierdie siening is uiteindelik in 1990 deur FW de Klerk verkeerd bewys, maar die gewese UDF-leierskap sou kon redeneer dat apartheid nie beëindig sou gewees het as dit nie vir dié organisasies se optrede was nie.
Daar is sterk aanduidings dat ons weer ’n tydperk van die beoefening van buite-parlementêre politiek in Suid-Afrika binnegaan – ten spyte daarvan dat Suid-Afrika nou ’n uitstekende Grondwet het en (ten minste in naam) ’n veelparty-demokrasie is.
En die redes vir hierdie ontwikkeling in die tweede dekade van die 21ste eeu, is breedweg dieselfde as in die 1980’s. ’n Gebrek aan vertroue onder die breë bevolking dat parlementêre prosesse en die regering van die dag, die wil en vermoë het om gewone Suid-Afrikaners se lewe te verbeter.
’n Mens kan so ver gaan as om te sê dat hierdie wantroue ook op alle politieke partye van toepassing is.
Die ontsaglike lae stempersentasie in die onlangse plaaslike verkiesings kan as een bewys hiervan aangetoon word. Oor die algemeen is die wantroue nie net in swak beleid gesetel nie, maar veral in die onvermoë en/of onwilligheid van die nasionale ANC-regering om beleid toe te pas.
Benewens die wantroue deur gewone Suid-Afrikaners, deel verskeie minderheidsgroepe ook hierdie siening, soos wat hul grondwetlike regte afgewater of (stadig) vernietig word deur ’n ANC-regering wat al hoe meer op ’n rasse-ideologie staat maak om steun te probeer behou – en daardeur minderhede al hoe meer benadeel.
Die oorgrote meerderheid van die mense en groepe wat hierdie wantroue koester, wil wel binne grondwetlike riglyne optree. Die bitter klein regse groepies wat opstand- of rebelliegedagtes koester, is nie die moeite werd om hier in aanmerking te neem nie.
Onafhanklike kandidate
Een vorm van wantroue in politieke partye kom tot uiting in die groeiende aantal onafhanklike kandidate wat aan die plaaslike verkiesings in November deelgeneem het. Daar moet toegegee word dat die aantal kandidate van dié aard wat wel verkies is, nie aardskuddend is nie.
Maar dit is ’n begin.
Baie van die plaaslike organisasies wat deelgeneem het, was meer suksesvol en het hier en daar selfs reggekry om deel van munisipale regerings te vorm.
Hierdie individue en organisasies beweeg op wat genoem kan word “binne-strukturele politiek” – individue gaan bestaande politieke partye verby en wil self ’n rol speel om kiesers op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak te verteenwoordig. Die kabinet het onlangs (ná ’n uitspraak van die konstitusionele hof) ’n dokument aan die parlement gestuur wat in wetgewing omskep moet word om dit vir individue moontlik te maak om ook aan provinsiale en nasionale verkiesings deel te neem.
Daar is nog baie struikelblokke in die pad hiervan, en die tydsraamwerk is kort – maar dit lyk asof onafhanklike kandidate wel in die verkiesing van 2024 sal kan staan en as hulle genoeg steun kry, hul plekke in die parlement en die provinsiale rade sal kan inneem. En die hoop bestaan dat daardie invloed uiteindelik ook tot die herstel van die staat sal lei.
Gemeenskapspolitiek
’n Tweede groep organisasies beweeg op die terrein van wat “buite-strukturele politiek” genoem kan word. Die oudste en bekendste hiervan is sektorale drukgroepe oor ’n verskeidenheid van temas. Van hulle werk internasionaal, soos drukgroepe oor klimaatsverandering, wildlewe- en oseaanbeskerming.
Die onlangse betogings teen die seismiese toetse van die oliereus Shell aan die Wildekus, is ’n klassieke voorbeeld van optrede op die terrein van die buite-strukturele politiek. Wat hierdie groepe gemeen het, is ’n spesifieke kontensieuse kwessie wat hulle motiveer.
’n Ander voorbeeld van buite-strukturele politiek is dinkskrums, beleids- en navorsingsorganisasies. Hulle wil wel beleid beïnvloed, maar neem nie aan die strukturele politiek deel nie, behalwe miskien vir ’n voorlegging hier en daar oor spesifieke sake in die parlement of provinsiale rade.
’n Derde groep organisasies het die afgelope jare na vore gekom omdat minderhede (en meer spesifiek Afrikaanssprekendes en Afrikaners) al hoe meer in hul geboorteland vervreemd voel en staatsverval op byna alle terreine aan die toeneem is.
Hierdie verskynsels is ’n direkte gevolg van die rasse-ideologie van die ANC-regering. Die Solidariteit-beweging (met sy verskeie affiliasies soos Helpende Hand, AfriForum, die FAK, Maroela Media, Akademia en Soltech) is waarskynlik die grootste en bekendste in hierdie groep.
Maar ’n organisasie soos die DAK-netwerk verteenwoordig dieselfde soort sentiment in die bruin Afrikaanse gemeenskap. Dit is onbetwisbaar dat hierdie organisasies almal op die breë politieke terrein beweeg, maar nie op die partypolitieke terrein nie. Hulle beoefen eerder iets wat “gemeenskapspolitiek” genoem kan word – en dus “buite-strukturele politiek”.
Só werk AfriForum byvoorbeeld as vennote van staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens om die veiligheid van hul eie en ander gemeenskappe te bewerkstellig, deur ’n uitgebreide netwerk van buurtwagte (en gemeenskapspolisiëringsforums).
In sommige omstandighede word daar in beperkte mate selfs sekere funksies van die staat uitgevoer (soos waterverskaffing, riolering, maatskaplike sorg en veiligheid), hoofsaaklik as gevolg van die toenemend afwesige, onwillige en onbekwame staat.
Dit is nie ’n maklike taak nie en moet boonop gedoen word sonder die inkomste wat die staat uit alle burgers se inkomstebelasting kry. Hierdie optrede is nie daarop gemik om ’n “nuwe” apartheid te skep nie, maar is ’n noodgedwonge optrede in ’n land waar dienste aan die verval en die staat aan die misluk is.
Die wekroep dat Suid-Afrikaners en veral lede van minderheidsgroepe al hoe meer “staatsbestand” moet word, is ’n gereelde een uit hierdie geledere. Maar daar is ook ’n werklikheidsbesef dat sekere staatsfunksies en dienste nie geprivatiseer kan word nie, veral wat die reguleringswerk van die staat betref. Akademia en Soltech kan onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings wees, maar het steeds staatsinstellings se akkreditering nodig.
’n Ander wekroep is dat lede van hierdie groepe en organisasies “self sal bou” aan hul onderskeie gemeenskappe. Dit word egter gekwalifiseer deur ’n toenemende besef dat hulle nie in isolasie kan leef nie, en ook “saam moet bou” – met ander gemeenskappe.
Die onlangse stigting van die Afrikaner-Afrika Inisiatief (AAI), as ’n gesamentlike projek van ’n aantal prominente Afrikanerorganisasies en die Thabo Mbeki-stigting is die beste voorbeeld hiervan.
Só word hoop geskep
Van hierdie organisasies wat op die buite-strukturele politieke terrein beweeg, word soms gekritiseer dat hulle “etnies mobiliseer” en “identiteitspolitiek” beoefen – en dit word as amper so negatief beskou as om opstand teen die staat te bedink..
Hierdie kritici vergeet egter dat die Grondwet self sekere riglyne gee waarvolgens gemeenskappe die reg kry om te organiseer, naamlik taal, kultuur en godsdiens.
Andersyds is dit ook waar dat die Grondwet diskriminasie op grond van ras, geslag en ’n hele rits ander faktore (tereg) verbied. As identiteitspolitiek op ras gegrond is, is dit dus grondwetlik verkeerd en onaanvaarbaar.
Om in terme van taal-, kultuur- en godsdiensidentiteit te organiseer, is egter nie ongrondwetlik nie. Trouens, daar is ’n statutêre kommissie ingevolge art. 185 van die Grondwet tot stand gebring om dit te help vermag. Die kritiek teen organisasies wat op die buite-strukturele politiek beweeg en hulle volgens taal, kultuur en godsdienstige maatstawwe organiseer, is dus ongegrond.
Miskien die belangrikste aspek van die werk wat mense en instansies in die buite-strukturele politiek doen, is dat dit hoop gee aan veral jong Suid-Afrikaners (insluitend Afrikaanse jong mense) wat voel dat die tradisionele parlementêre politiek en die regering van die dag hulle in die steek gelaat het – of dit is oor lewensomstandighede, werkloosheid, armoede, onderwys of veiligheid.
Dat daar op plaaslike gemeenskapsvlak iets konstruktiefs gedoen word aan waterverskaffing, riolering en veiligheid, en dat daar steeds die moontlikheid is van onderwys in Afrikaans (en hopelik spoedig ook in ander Afrikatale) kan jong mense se hoop in die toekoms van die land nuwe lewe gee – en hulle in die land hou.
Dit minag nie die rol van binne-strukturele en selfs parlementêre politiek nie; trouens, lede van hierdie organisasies is waarskynlik van die min kiesers wat steeds stem. Dit koop op gemeenskapsvlak tyd vir die tradisionele politiek om te herstel.
Buite-parlementêre politiek (ingesluit buite-strukturele politiek) is grondwetlik, dit mag. Maar onder ons huidige omstandighede is dit selfs gewens. Daarsonder sal alle hoop op die toekoms vervaag en uiteindelik verdwyn.
• Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
