Dié praatjies is erg opwindend! DEUR WILLIE ESTERHUYSE

Mar 14, 2021

Source Article: Netwerk24.com

Willie Esterhuyse, Stellenbosch, skryf:

Ek volg, as ’n betrokkene by die Thabo Mbeki-stigting, met groot verwagting die begin van ’n gesprek tussen Afrikaner­organisasies en die stigting.

Ek glo ons het nou ’n eerste, belangrike fase betree: Gesprek-oor-gesprek; dialoog-oor-dialoog. En veral: Die aard en samestelling van dié dialoog-agenda, asook deelnemende partye.

Dis ’n láng gespreks- én interaksiepad waarin die bou van onderlinge vertroue én die erkenning van gemeenskaplikhede deurslaggewend is. Kras gestel: “Talking to the enemy” veronderstel persoonlike vertrouensbou. “Vyande” wat leer om mekaar ter wille van die algemene droom van vrede te vertrou én by volhoubare ontwikkeling betrokke te word.

Ek het van dié byeenkoms met ’n opgewonde ervaring weggestap ten spyte van my hoë ouderdom! Ek het immers baie vredesinisiatiewe sien kom en gaan.

So ook verstreke loopbane van joernaliste én professore. En natuurlik die leë drome en mislukte vredespogings.

Laasgenoemde verdien aandag: Ons het volhoubare vrede en ontwikkeling in ons land nodig. Nie sentimentalistiese versoeningspraatjies nie, ’n hoogdrawende sentiment van ’n hele troep verstreke kommentators wat lankal moes afgetree het.

Hierdie organisasies se gesprek-oor-gesprek gee my wel hoop. Toegegee, dit kan nie ’n wit Afrikanernasionalistiese affêre wees nie, maar ’n inklusiewe Afrikaanse affair. Daar is nie net wit Afrikaanses in die land nie, maar ’n ras- en kleurryke Afrikaanse gemeenskap.

Die gesprek-oor-gesprek sal, so glo ek, hulle ook betrek. Afrikaans behoort mos nie net aan “bleekgesigte” en nasionalistiese verstrekenes nie?