’n Tyd vir opstaan en afstof DEUR KOOS MALAN

Mar 7, 2021

Source Article: Netwerk24.com

Afrikaners is in ’n baie sterker posisie om met ’n ANC-regering in gesprek te tree as ooit tevore, skryf Koos Malan.

Often the biggest changes in history are the achievements of thinly documented, informally organised groups of people. – Niall Ferguson in The Square and the Tower: Networks, Hierarchies and the Struggle for Global Power

As ons glo dat state en regerings altyd die hoofakteurs in die geskiedenis is en dat politieke gebeure altyd ooreenkomstig die plegtige bepalings van gewaande oppermagtige grondwette verloop, maak ons ’n groot fout.

Veral in die Suid-Afrikaanse staat sal dit ’n ernstige dwaling wees.

Hier het die staat so agteruitgegaan dat baie vorms van openbare orde slegs danksy goed georganiseerde gemeenskapsinstellings en die selfregulerende private sektor bestaan.

Gemeenskapsinstellings en die private sektor se rol groei dus, terwyl regeringslui en staatsorgane se belangrikheid afneem. Met die gevolg dat die Grondwet na die agtergrond verskuif na mate dit óf weens wanorde óf deur nuwe, gemeenskapsgegronde instellings opsygeskuif word.

Niks illustreer dié punt beter as die twee dae lange beraad tussen Afrikaner-organisasies (onder leiding van die Solidariteit Beweging) en die Thabo Mbeki-stigting verlede Saterdag in Kaapstad nie.

Die ontmoeting is die gevolg van twee samehangende kwessies.

Die eerste is dat die Solidariteit Beweging danksy sy suksesvolle netwerk van gemeenskapsinstellings ernstig opgeneem en met agting bejeën word. Daarvan is die nuwe Sol-Tech-kampus, wat Solidariteit pas geopen het, die beste voorbeeld. Die gevolg van sy suksesvolle netwerk is dat Solidariteit besig is om aan Afrikaners weer die soort selfvertroue te besorg wat hulle etlike dekades nie gehad het nie.

Die tweede rede is die ooglopende agteruitgang van ons geplunderde, swak staat. Niks demonstreer dit beter nie as AfriForum se hoë-tegnologie- gemeenskapsgegronde veiligheidstelsel wat hy nou tot die staat se beskikking wil stel om geweldmisdaad te help bekamp.

Die gesprekke tussen die Solidariteit Beweging en die Mbeki-stigting laat ’n mens noodwendig wonder oor vergelykings met die vroeë 1990’s en die samesprekings en onderhandelings wat tot ons grondwetlike bestel gelei het.

Hier het ons egter in elke opsig – sowel wat betref die politieke klimaat as lewensbeskoulik – met presies die teenoorgestelde as destyds te doen.

Destyds was die wit minderheidsregering en die Nasionale Party (en die Afrikaner-opposisie) beteuterd en op die verdediging. Gekasty deur die morele las van apartheid, internasionale isolasie en gestrem deur ’n onbeholpe party arm aan talent, was dit tot magtelose oorgawe en uiteindelik die ontbinding van die eens magtige NP gedoem.

Intussen het alles verander.

Die ANC het hom bewys as tot in sy wese korrup en volkome onbekwaam om ’n moderne staat te bestuur. Vir oortuigende redes het hy sy selfvertroue verloor.

Met Afrikaners is dit – anders as destyds – presies die teenoorgestelde gesteld. Die meeste Afrikaners het aanvanklik aan die vreugde van ’n gewaande nuwe wonder-orde meegedoen. Toe volg die foltering van die lelike verhale voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie.

Daarna volg die teleurstelling in die ware ANC-staat, gepaard met ergernis oor sy toksiese transformasieproses.

Daar bly dit ook nie, want twee dekades gelede saai Afrikaners die eerste saad van ’n nuwe Afrikanerbeweging, wat in die gestalte van die Solidariteit Beweging tot ’n yslike selfhelp-struktuur groei.

Afrikaners het dus met goeie rede opnuut selfvertroue en selfversekerdheid.

Die ANC daarenteen, gekasty deur sy mislukking, is in werklikheid al hoe minder in beheer. Sy regeringsbesluite is geen regte besluite nie, want hy kan nouliks enigiets noemenswaardig tot uitvoering bring. Sy president kan hoogstens dagdroom oor slimstede en blitsige treine. Die ANC het heel geregverdiglik ’n voorwerp van bespotting word.

Afrikaners en die ANC het dus die posisies geruil wat hulle nog ’n generasie gelede beklee het.

Die gesprekke en gesamentlike verklaring wat verlede Saterdag uitgereik is, kan dus gesien word as die eerste tree in ’n ideologiese kentering, naamlik die erkenning van kultuurgemeenskappe – met besondere inbegrip van die Afrikaner-kultuurgemeenskap.

Dit behels die teenoorgestelde van die ANC se homogeniserende ideologie, ingevolge waarvan ’n konstitusionele orde uitsluitlik op gesentraliseerde staatsmag en individuele regte gegrond is, en waarvolgens daar geen erkenning vir kultuurgemeenskappe is nie (of wat ten beste oneerlike lippediens aan gemeenskappe lewer). Dienooreenkomstig word erkenning aan gemeenskapsinstellings verwerp en daar is uiteraard geen sprake van outonomie vir gemeenskappe oor kwessies wat hulle in besonder raak nie. Vandaar die weersin in Afrikaanse skole en dergelike opvoedkundige instellings.

Met verlede naweek se Solidariteit-Mbeki-inisiatief tree die teenoorgestelde na vore. Trouens, die erkenning van kultuurgemeenskappe is ’n toonaangewende idee wat deurlopend in die gesamentlike verklaring teenwoordig is en die voorafgaande samesprekings gekenmerk het. Dit staan in skrille kontras met die “likwidering” van gemeenskappe wat nog altyd deel van die ANC se oortuigings is.

Die beklemtoning van die belang van kultuurgemeenskappe het nie uit die niet verskyn nie. Dit is ook nie slegs as (teoretiese) idee geopper nie. Inteendeel, dit is die produk van reële gebeure: Die omvangryke bouwerk van die Solidariteit Beweging en samewerkende organisasies wat tot uitdrukking kom in ’n verskeidenheid suksesvolle en groeiende instellings.

Opvallend is dat ook Orania prominent verteenwoordig was, met Carel Boshoff een van die sprekers op die beraad. Verteenwoordigers van die Mbeki-stigting het selfs vroeër die dorp besoek. Die onderliggende verstandhouding is dat Orania, net soos talle eweknieë in ander gemeenskappe, normaal en ongestoord kan voortwoeker.

(Kultuur-)gemeenskappe op sigself is natuurlik nie voldoende nie. Hulle moet bemagtig wees. In die gesamentlike verklaring word – veelseggend en in teenstelling met die ANC-ideologie van sentralisering – melding gemaak van die noodsaak van ’n bepaalde graad van outonomie vir Afrikaners oor Afrikaanse onderwys en oor die vryheid om eie onderwysinstellings uit te bou.

Sterk gemeenskappe behels sterk instellings, dit wil sê, met finansiële en uitvoerende vermoë en met die gesag om hul eie mense te kan bedien, te groei en met ander gemeenskappe saam te werk.

Die gesamentlike verklaring getuig sterk – selfs emosioneel – daarvan – wanneer selfstandigheid en sy Xhosa-eweknie, “vuk’uzenzele”, onderskryf word.

Ons het hier insgelyks nie slegs met idees te doen nie, maar ook met reële – daadwerklike – optrede en projekte. Afrikanerorganisasies is aktief daarmee gemoeid.

By die geleentheid is byvoorbeeld ’n video gewys van ’n projek waarby AfriForum, die landbou-organisasie Saai en firmas in die landboubedryf met die Barolong Boo- tradisionele gemeenskap saamwerk in die vestiging van landbouprojek-te. AfriForum het trouens ’n reeks gesamentlike selfstandigheidsprojekte op sy kerfstok wat vra om behoorlik geboekstaaf te word.

Te midde van verswakkende rassebetrekkings, wat aangestig word deur roekelose politici, is dit opbeurende nuus. Samewerking kom egter nie vanself nie. Dit kan eers gebeur wanneer daar selfstandige gemeenskappe met eie instellings is.

Daarin lê die bron van samewerking.

Selfstandige, samewerkende gemeenskappe het konstitusionele implikasies.

Dit verander die (daadwerklike) grondwet sonder dat die bewoording van die Grondwet gewysig word. In teenstelling met die konstitusionele uitgangspunte van ’n generasie gelede, wat afwysend was teenoor gemeenskappe en slegs ’n oog vir individue (individuele regte) en die staatsentralisasie gehad het, maak dit gemeenskappe ’n (bykomende) sentrum van gesag.

Vir sover gemeenskappe onderling saamwerk, laat dit ook die skriftelike (Grondwet) ten dele agter en bewerkstellig ’n nuwe daadwerklike, werklikheid.

Maar waarom maak die Solidariteit Beweging bemoeienis met die Thabo Mbeki-stigting? Mbeki beklee immers geen amptelike gesagsposisie nie. Hoekom nie eerder regstreeks met die ANC en die regering skakel nie?

Dit is noodsaaklik en dit gebeur ook. Sol-Tech en Akademia en dergelike strukture moet per slot van sake met verskeie staatsorgane skakel met die oog op akkreditasie en dergelike vorms van amptelike voldoening. Juis daarom verbind die gesamentlike verklaring die partye ook daartoe om Solidariteit se wisselwerking met staatsinstellings te vergemaklik.

Die huidige Suid-Afrikaanse staat beleef die onkeerbare agteruitgang van amptelike staatstrukture. Selfstandige gemeenskapsinstellings en die algemene burgerlike en private sektor vul in beduidende mate die groeiende vakuum wat deur die mislukte staat gelaat word.

Dit is presies in hierdie konteks dat nie-staatlike en meer bepaald gemeenskapspolitieke samewerking deurslaggewend raak.

Danksy die groei van die Solidariteit Beweging as georganiseerde Afrikanerfront (so sterk dat R.W. Johnson vroeër daarna as ’n staat binne ’n staat verwys), is dit toenemend by magte om (in samewerking met ander gemeenskappe) leemtes te vul en orde te stig waar die mislukkende staat en magtelose Grondwet onttrek het.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die belang van wisselwerking met die staat afneem, terwyl sterk gemeenskapsinstellings en onderlinge samewerking tussen sulke instellings al hoe belangriker word.

Die gesamentlike verklaring van die Solidariteit Beweging en die Thabo Mbeki-stigting staan in die teken daarvan. Dit is maar een van die episodes in die groeiende politiek van selfstandige gemeenskappe in die plek van die onttrekkende staat.

Laat ons saam met Niall Ferguson nie die belang daarvan onderskat nie. In Suid-Afrika is dit die toekoms.

Prof. Koos Malan doseer publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. In sy jongste boek, , bespreek hy onder meer hoe politieke kragte oënskynlik ’n oppermagtige grondwet stilweg beduidend verander.