Dis Voorwaarts Mars vir Ons DEUR MARTIE RETIEF MEIRING

Mar 4, 2021

Source Article: Netwerk24.com

Skaars in die skool of ek word ’n drawwertjie. In speeltyd was dit aantree. Ons meisies val agter mekaar in, kyk verdwaas rond, maar toe kom die opdrag: “Voorwaarts! En markeer die pas, en links, regs, links, regs . . .” Ons sukkel om te onthou watter voet is links, watter regs. Ons leuse is: “Hou koers.” Ons weet nie mooi wat dit beteken nie, maar ons koor in een asem: “Hou koers!”


As jy in ’n Nat/Sap-huis grootgeword het, het jy geweet regs is die huise waar D.F. Malan in die gang hang. Links was iemand se oujongnooi-tante wat “lekker geklits met die kommunisme is”. Sy het, terloops, ’n man se kakiebroek gedra en hoe “links” was dit tog nie!


Deur die jare sou ek, ouddrawwertjie, aanvanklik regs besluit dat apartheid, of (a-hem!) aparte ontwikkeling, die antwoord is. Net om later weer links te swenk met: Nee, hierdie ontwikkeling geld net een part en min of niks die ander.

Maar eers was daar die jare toe daar ’n Rus onder elke bed gelê het (dit was apartheidstaal vir die Rooi Gevaar.) Hoe moes ’n drawwertjie dan nog langs die bed kniel vir: “Ek ben hin kindjie klein”, sonder ’n vreesbevange hart?


Later sou ’n regte Rus (van Russiese ouers) nie eens onder die bed inkruip nie, maar sommer openlik ’n groot rol speel in die besluite oor die Nuwe Suid-Afrika. Hy was Joe Slovo.


Die drawwertjie het toe darem al geweet jy sluk nie alles wat Joe Slovo voorstaan nie en kon met trots die verligtheid van ’n Wimpie de Klerk steun teen die verkramptheid van ’n Eugène­ Terre’Blanche.


Maar die regs/linkse duiwel bly woel.


’n Groep denkende Afrikaanssprekendes stig ’n dink-en-werkplek. Hulle noem dit Solidariteit.


Oeps, sê pseudo-verligtes, is dit ’n regse groep?


’n Groep wat na werkers omsien, die reg bestudeer en handhaaf, ’n universiteit en ’n tegniese kollege instel – regs?


Verlede week hou ’n verskeidenheid van Afrikaners indaba saam met die Thabo Mbeki-stigting. Groot ongemak by sogenaamde verligte Afrikaners (sorrie, Afrikaanssprekendes) in die omte: Die “regses” trek weer laer.


Die sogenaamde regses bespreek, natuurlik, landbousake, die ekonomie en groter deelname in plaaslike politiek, asook “om mét mekaar te praat eerder as oor mekaar”.


Ook pleit die groep om die bevordering van inheemse tale. Die godskreiende minagting van moedertaalonderrig moet aan die groot klok gehang word en dalk sal hierdie indaba tog weerklank vind. Hopelik ook by my alma mater, waar benewens die verskraling van Afrikaans, feitlik geen daadwerklike poging bestaan om Xhosa te erken of te bevorder nie, immers een van die drie amptelike tale in ons kontrei.


Is dit links of regs dat hierdie groep vra dat Afrikaners as ’n “Afrika- kulturele gemeenskap” erken word?


Hierdie ouddrawwer glo dis nou ’n voorwaartse stap.