Redaksionele kommentaar van Die Burger en Beeld

Feb 28, 2021

Die Burger en Beeld sê: Dialoog-inisiatief bring vars bries van hoop vir SA

Die gesamentlike verklaring wat die naweek deur verskeie Afrikaanse organisasies saam met die Thabo Mbeki-stigting (TMF) onderteken en uitgereik is, is ’n vars bries van hoop in moeilike tye. Daarin word onder meer verklaar Afrikaners wil met ander gemeenskappe saamwerk om “alle beskikbare vaardighede aangaande infrastruktuur” in sukkelende munisipaliteite te gebruik. Daar word ook ’n wil uitgespreek om die bron te verstaan van die vervreemding met die regering wat deur alle gemeenskappe en ook Afrikaners gevoel word. Dit moet luidens die verklaring uiteindelik oorkom word en die pyn heel wat uit konflikte van die verlede spruit. Ná die Nelson Mandela-era van versoening en nasiebou is dit asof wedersydse dialoog in die land tot stilstand gekom het – ironies juis ook in die Thabo Mbeki-era. Dit het groter afstand gebring en negatiewe persepsies, waarvan die meeste misplaas, het tussen verskillende groepe ontstaan. Dit is al meermale deur Beeld bepleit dat dialoog en inklusiewe samewerking die enigste manier vorentoe is om die land op ’n suksespad te plaas. Dit is ook betekenisvol dat Afrikaanse organisasies, wat ook soms verskillende standpunte het, dit kon opsy skuif as deel van ’n groter belang. In Suid-Afrika, met sy geskiedenis van konflik en die gevolglike wantroue, sal voortdurende dialoog deel van die leefwyse moet word. En dit moet uitloop op aktiewe samewerking om onder meer standhoudende dienslewering en ekonomiese groei te skep. Wat ook te verwelkom is, is die benadering om die sukses van die land nie bloot in die ANC-regering se hande te laat nie. Geloofwaardige rolspelers uit verskillende gemeenskappe neem hier hande en verklaar wat hulle in elk geval gaan doen. Twee uitsprake is die naweek gemaak wat reeds van eietydse historiese belang is: Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, wat sê: “Ons wil nie op die kantlyn sit en net na ons eie belange omsien nie. Ons wil bemagtigend wees om ons deel te doen om die land en sy mense vorentoe te neem. ”En dr. Vincent Maphai namens die TMF: “Ons wil nie hê julle moet iewers anders heen gaan nie. Ons het julle nodig in die heropbou van die land.”