Kom ons red sáám die land DEUR WALDIMAR PELSER

Feb 28, 2021

Source Article: Netwerk24.com

Afrikaners se kundigheid is noodsaaklik om Suid-Afrika na jare van wanbestuur te herbou en daarom is dit noodsaaklik dat die groep se gevoel van uitsluiting en “vervreemding” dringend getakel word.

Só het die veteraan-sakeman dr. Vincent Maphai Saterdag gesê toe hy ‘n gesamentlike verklaring oor “Afrikaner-prioriteite” namens die Thabo Mbeki-stigting (TMF) onderteken het.

Altesame 12 Afrikanerbelangegroepe en sowat 20 senior verteenwoordigers van die Mbeki-stigting het ná ‘n twee dag lange beraad in Kaapstad ooreengekom dat 11 “prioriteite” van Afrikaners gepak moet word omdat dit “kritiek is vir maatskaplike samehorigheid en die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika en die Afrikavasteland”.

Maphai (69) het gewaarsku: “Wat ‘n samelewing stabiel hou, is dat jy ‘n gevestigde belang in die oorlewing van daardie samelewing het. Wanneer jy vervreemd is, is jy selfs bereid om te vernietig wat reeds bestaan. Ons het nodig om ons maatskaplike kapitaal te hervestig en om te bou op wat reeds bereik is.”

Hy het gesê die TMF onderteken die gesamentlike verklaring oor onder meer moedertaalonderrig en die erkenning van Afrikaners as kultuurgemeenskap “want dié is legitieme bekommernisse van mense. Kom ons ondersoek hulle verder. Afrikaners is baie belangrik vir die land se ekonomiese oorlewing – hul hulpbronne, hul verbintenis tot die land.”

Toe draai hy na Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, wat ook geteken het, en sê: “Ons wil nie hê julle moet iewers anders heen gaan nie. Ons het julle nodig in die heropbou van hierdie land.”

Buys het vroeër gesê baie Afrikaners voel “uitgesluit en vervreem” en het vertroue in die regering verloor. Maar omdat hulle lief is vir die land wil hulle nie net hul eie belange najaag nie, maar ook die land help herstel. Ons kan egter nie langer bekostig om “gevangenes van die verlede” te wees nie.

Die gesprekke en ooreenkoms is gister as “histories” en “dapper” beskryf.

In die verklaring wat by die Vine-yard-hotel in Nuweland onderteken is, het die 12 Afrikanergroepe en die Mbeki-stigting dringende aandag gevra aan 11 prioriteite. Die hoop is ook uitgespreek dat beskikbare kanale na die regering gebruik sal word om Afrikaners se saak te stel, hoewel daar konsensus was dat gemeenskappe eerder horisontaal moet saamwerk – met mekaar – as “vertikaal” met ‘n regering waaroor diep ontnugtering heers.

Die 11 prioriteite sluit in:

* Die skep van ‘n groeiende, inklusiewe ekonomie deur beleid te verwyder wat ekonomiese herlewing keer;

* ’n Nuwe finansieringsmeganisme vir opkomende en bestaande boere. Rapport verstaan Duitsland stel glo belang om hierin te belê;

* Die identifisering van suksesvolle landbouprojekte wat as modelle vir sukses kan dien;

* Die bevordering van inheemse tale in ons skole en ander opvoedkundige instellings. As deel hiervan wil die groepe twee simbolies belangrike projekte pak. Die een is om die Lovedale Press in Alice in die Oos-Kaap te red, wat in 1823 gestig en in 1836 die eerste Xhosa-koerant gepubliseer het, Izimvo zabantsundu (“sienings van die swart mense”). Die tweede is die herlewing van die Groenberg-skool op Schalk Burger se Wellingtonse wynplaas Welbedacht, waar C.P. Hoogenhout tussen 1869 en 1904 skoolhoof was toe hy redakteur geword het van die vroeg-Afrikaanse publikasie Die Patriot;

* Die gevoel van vervreemding en die vertrouensbreuk met die regering, wat volgens deelnemers deur alle gemeenskappe gevoel word “maar besonder sigbaar is in die geval van Afrikaners”. “Dit is belangrik om die bron hiervan te verstaan sodat ons dit uiteindelik kan oorkom en die pyn heel wat spruit uit ons konflikte in die verlede,” is besluit;

* Groter insluiting vir minderhede in die politiek. Afrikaners het “toegang nodig tot die uitvoerende gesag (en) beleidmakers, veral oor kwessies wat hier geopper word ten einde vertroue en samewerking te ontwikkel”. Afrikaners onderneem om deur die Thabo Mbeki-stigting ook uit te reik na ander gemeenskappe in Suid-Afrika en die res van ons vasteland om die potensiaal vir samewerking te ontgin en “wedersydse erkenning en respek” te bevorder;

* Afrikaners wil met ander gemeenskappe saamwerk om “alle beskikbare vaardighede en ervaring aangaande infrastruktuur” te gebruik in sukkelende munisipaliteite. Twee of drie munisipaliteite sal as ‘n model vir verdere ingryping dien;

* Afrikaners wil nie hê daar moet teen hulle gediskrimineer word in onderwys nie en vra ‘n mate van “outonomie” om private onderwysinstellings te bestuur; en

* Afrikaners, “ ’n Afrika-kulturele gemeenskap”, wil soos ander tradisionele en kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika behandel en erken word.

Die geweldsmisdaadkrisis, ook op plase, moet dringend aandag kry.

AfriForum het ‘n gemeenskapsgebaseerde veiligheidstelsel ontwikkel wat as deel van die land se groter teenmisdaadstrategie gebruik kan word, maar vra dat die polisie en minister van polisie hul rol in misdaadbekamping erken. Rapport verneem AfriForum stel reeds in groot dele van die platteland hul hommeltuie tot die polisie se beskikking.

Vrydag en Saterdag se intensiewe gesprekvoering en die verklaring wat onderteken is, was die uiteinde van toenadering tussen Afrikaners en die Mbeki-stigting wat dateer van 2014 en waarmee partye gister onderneem het om voort te gaan. Dit het onder meer in 2018 ‘n besoek deur die Mbeki-stigting aan Orania ingesluit, en etes by mekaar aan huis.

Die partye was die Mbeki-stigting (TMF), die Afrikaner Afrika-inisiatief (AAI), die Solidariteit Beweging, die vakbond Solidariteit, die Afrikanerbond, AfriForum, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die Dagbreek Trust, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Sakeliga, die Vryheidstigting (Orania), die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai), die werkgewersorganisasie Neasa, asook dr. Irma Eloff en die wynboer Schalk Burger.

“Die partye erken dat dit onmoontlik sal wees om ‘n land te bou op die fondasies van wantroue. Dit is daarom ‘n praktiese reis om vertroue te ontwikkel tussen ons mense en ons gemeenskappe, maar om, meer belangrik, saam te werk om die gees van vuk’uzunzele, selfstandigheid en selfhelp tussen ons gemeenskappe te bevorder,” het die verklaring gelui.

Vuk’uzunzele is ‘n Nguni-woord vir “staan op en doen dit self”.

Oor twee dae het sowat 40 afgevaardigdes probeer uiting gee aan ‘n visie wat vorentoe kyk sonder om die verlede te vergeet. Hulle kies samewerking tussen Afrikaners en ander gemeenskappe bo direkte skakeling met die regering. Daar was konsensus dat tweespalt groei, dat ons op ‘n armoede-tydbom sit en dat die regering se planne op is.

Terselfdertyd wil Afrikaners nie langer die sondebokke gemaak word vir regeringsmislukkings nie en erken word as ‘n kultuur- en taalgemeenskap wat ‘n reusebate tot alle Suid-Afrikaners se heil kan maak.

Die oud-diplomaat Chris Opperman, stigter van die AAI en sameroeper van die beraad, het gesê; hy het in Tanzanië in die 1990’s ‘n “inklusiewe Afrikanasionalisme” ontdek. Pres. Julius Nyerere het Afrikaners as ‘n Afrikastam gereken.

Jan Bosman van die Afrikanerbond sê dié droom is hier in gevaar: “In 1994 het die meeste van ons ingekoop in die idee van die nuwe Suid-Afrika. 27 jaar later is baie van ons kwaad, ontnugterde Suid-Afrikaners. En Afrikaners voel vervreemd. Ons word spesifiek geteiken – as ons sê; ons is ‘Suid-Afrikaners’ dan word ons gronddiewe, rassiste, kolonialiste van ‘n spesiale aard of invallers genoem. Kom ons aanvaar die verskillende identiteite wat ons het, maar vind weer gedeelde waardes en belange en ‘n gedeelde ideaal.”

Die regsgeleerde prof. Koos Malan het die feit betreur dat die Grondwet nie werklik meer die “meester-narratief” in Suid-Afrika is nie.

“Afrikaners moet nie arrogant wees nie en het trouens volop rede om uiters beskeie te wees, maar ná 1994, ná die WVK, het Afrikaners hul selfvertroue herwin. Daar is iets ongelooflik heilsaam in ‘n kultuurgemeenskap wat verantwoordelikheid vir homself aanvaar, maar terselfdertyd sê; ‘nie nét vir onsself nie, kom ons vat ook hande, en bou brûe sodat ons tussen gemeenskappe samewerking kan ontsluit’. Dit is die meester-konsep hier.”

Terwyl dr. Dirk Hermann van Solidariteit Saterdag se ondertekening as ‘n “historiese geleentheid” beskryf het, is dit ook as “dapper” gehuldig deur ‘n swart deelnemer wat gekies het om nie vir publikasie te praat nie in die hoop dat die kwessies wat aangeroer is vorentoe verder in ANC-strukture bespreek sal word.

“Ons het mekaar nodig. En namate ons saam begin optree, sal ons vind dat ons baie probleme oplos,” het een spreker gesê.

Afgevaardigdes is ook herinner dat politici wat verdelende uitsprake maak, veral oor wit mense, “net die stem van ‘n minderheid is”.

“Ek is absoluut seker daar is geen meerderheid van swart mense wat Afrikaners haat nie. Daardie meerderheid bestaan nie.

“Ons taak is om te verseker dat ons kyk watter krag ons kan mobiliseer om ‘n beter Suid-Afrika te bou, in pas met ‘n visie wat ons almal deel. Soos wat ons saam optree, sal ons wys dat ons kan wen, en ons sál wen.”