Source Article: Maroela Media
Belangwekkende gesprekke tussen die Thabo Mbeki-stigting, sommige van die instellings van die Solidariteit Beweging asook ander belangegroepe oor ’n verskeidenheid onderwerpe van belang vir Afrikaners, die Afrikaanse gemeenskap en die breër Suid-Afrikaanse toekoms vind Vrydag en Saterdag in Kaapstad plaas.
Die sameroepers van die byeenkoms is die voormalige diplomaat Chris Opperman van die organisasie Afrikaner-Afrika-Inisiatief (AAI), en dr. Vincent Maphai van die Thabo Mbeki-stigting.
Dit vorm deel van ’n langdurige en aanlopende kontakproses gegrond op die hantering van ’n gevoel van Afrikaner-vervreemding van en binne die Suid-Afrikaanse samelewing, sowel as ’n behoefte om by te dra tot die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika en Afrika deur die gebruik van hul vaardighede, netwerke en hulpbronne.
’n Verkennende gesprek is op 8 en 9 Februarie tydens ’n bosberaad by die KwaNdaba-natuuroord by Rust de Winter noord van Pretoria gehou, asook ’n byeenkoms op die Akademia-kampus in Pretoria, en punte voortspruitend uit daardie gesprekke sal die rigsnoer vorm vir die naweek se besprekings.
Ter sprake is die probleme wat die Afrikanergemeenskap asook die land in die breë in die oë staar, beginselgedrewe oplossings vir hierdie probleme en praktiese wyses om daardie oplossings te maak werk.
Ten einde die vele probleme te takel wat die land, en die Afrikanergemeenskap in die besonder, ondervind, sal die beginsels vervat in Suid-Afrika se Grondwet, sowel as die beste internasionale praktyk, gebruik word om wedersydse erkenning, respek en goeie verhoudinge tussen gemeenskappe uit te bou, en om regte te bevorder, veral waar dit deur sommige magshebbers geskend of bedreig word.
Die erkenning van diversiteit sodat eenheid in diversiteit beslag kan kry, is as belangrik geaksentueer.
Elf kernkwessies vir bespreking is geïdentifiseer, te wete:
* ’n Gevoel van vervreemding en ’n vertrouensgaping tussen Afrikaners en die regering;
* ’n Sukkelende land met ’n beskadigde ekonomie en ingewikkelde politiek;
* Die bevegting van diskriminasie in onderwys, vanuit ’n beskouing dat die Afrikanergemeenskap onderwys nie slegs sien as onderrig nie, maar ook as taal-, kultuur- en waardegerigte dissipline, en dat Afrikanergemeenskappe ’n mate van outonomie moet hê om Afrikaanse skole daar te stel.
* Die uitbou van die kultuur en erfenis van alle gemeenskappe;
* Die belangrikheid van ’n inklusiewe ekonomie om massa-armoede te bestry;
* Landbou-finansiering vir nuwe en gevestigde boere;
* Uitbou van landbou vir voedselsekerheid en werkskepping;
* Uitbou van inheemse tale;
* Die verbetering van munisipale infrastruktuur en munisipale bestuur;
* Uitbou van veiligheid en sekuriteit; en
* Die stem van die Afrikaner moet in die Suid-Afrikaanse politiek gehoor word.
By hierdie naweek se vergadering sal daar na verwagting enkele waarnemers wees.
